Advertisement
Published: June 16th 2012
Edit Blog Post
Dag 10, Venesie: Vandag die vaporetto’s aangedurf (waterbusse) en ontdek waar die Italiaanse skeepskaptein wat sy skip langs die kus kom park het hom bevind: hy ry vaporettos in Venesie. Of anders is it een van sy trainees. Die een ou het ‘n gondolier, ander waterbus en ten minste twee stoppe amper in sy glory in gery - en ons kon nie eens ‘n meisie in die kajuit by hom sien nie. Die vaporetto’s is vol (behalwe heel laat in die aand) maar dit is ‘n blik op Venesie wat jy nie maklik anders sien nie, behalwe as jy 60 euro kan bekostig vir ‘n watertaxi of 100 euro vir ‘n gondola.
Ongelooflik hoeveel vooraansigte van geboue gefrescoe en gestandbeeld is vir die plesier van die waterryers. Maar lyk my dis Vensie: sommer mooi omdat dit kan.
Het vir ‘n slag modern kuns gaan kyk by die Peggy Guggenheim museum, die Amerikaanse erfgename wat die laaste private gondola in Venesie besit het en aan wie die meeste van die twintigste eeuse surrealiste, moderniste en volgens my baie weirdos hul miljoene te danke het. Wonderlike Henry Moore’s, Klee, Kandinsky, Picasso, Magritte, Dali, noem maar op, is
ook daar. Baie van een van haar mans Max Ernst (net 5 jaar gehou) en skoonseuns Helion en Vail (ek dink daar’s ander kunstenaar-skoonseuns ook, maar kan nie onthou nie).
Vir my die aangrypendste die naiewe prentjies van haar enigste dogter Peggeen Vail: ma het waaragtig haar tekeninge aan haar protégés verkoop toe sy 12 jaar oud was en haar daarna rondgesleep van verhoudings met een na die ander van die voor-oorlogse avant garde crowd. Maar wat kan jy ook anders verwag van ‘n ma wat Jackson Pollock op die map geplaas het deur 11 (elf!!!) van sy skilderye te koop, en sy was nie eens met hom getroud nie. G’n wonder die kind het later selfmoord gepleeg nie.
Het ‘n Kanadese New Zealander (weet darem van die Springbokke) wat ‘n skilder is wat nou wil begin beeldhouwerke maak in plastiek (maar sy weet nie hoe nie) op die eerste vaporetto ontmoet – darna weer by die Guggenheim en die aand by die opera. Sy was pas ‘n week in Florence en selfs sy se sy het ‘n oormaat gehad van Middeleeuse en Renaissance kuns. Nou voel ons nie meer sulke Filistyne nie.
Maar, Abrie en Linda, jul Escuola di Grande di Rocco IS beslis die moeite werd. Die dakpanele en muur frescoes is amper so indrukwekkend soos die Sistynse kapel. Goed, voor almal op my kop afkom: ek sal nooit beweer Tinoretto is Michelangelo se gelyke nie, maar die geheelbeeld, afgewissel met die gekerfde hourpanele, is net so oorweldigend mooi. En ‘n GROOT plus: min mense en BAIE stoele.
Die aand het ons een van die unieke ervarings gehad wat jy nerens anders kan geniet nie: ‘n opvoering van Rigoletto in ‘n palazzo waar die gehoor van kamer tot kamer beweeg om die volgende tonele en bedrywe te sien. Die sangers spoeg omtrent op jou soos hulle sing en in die eerste toneel in die hertog se kasteel is ons “gaste” met wyn en biscotti bedien. Die “donna e mobile” toneel was in ‘n slaapkamer en mens voel omtrent soos ‘n voyeur soos die sangers rondom jou karfoefel, huil en moor.
‘n Mens sluit by ‘n “private klub” aan ipv om kaartjies te koop – daar’s klaarblyklik ‘n wet of vakbond wat hulle verbied om die optredes anders aan te bied. Ek sou se dit is ‘n besliste moeite werd ondervinding, hoewel effe duur (maar as jy kyk hoeveel ons opera kos, ook nie onmoontlik nie) plus jy kry verniet wyn of vonkelwyn in pouse. Iets wat mens lank sal onthou.
Bly net weg van die restaurant op dieplein voor jy by die palazzo kom: die ou is onbeskof en stel nie belang in klandisie nie.
Op ‘n ligter noot: op pad terug op een van die vol bruggies laat ‘n ou kliphard ‘n wind. Nicol kyk om, ‘n onskuldige ou wat verbystap beduie hard “dit was nie ek nie!” toe hy sien Nicol kyk en lag, terwyl die skuldige doodluiters aanstap. Nou’t ons ‘n variasie op die lughawe-bus storie.
Advertisement
Tot: 0.058s; Tpl: 0.01s; cc: 6; qc: 44; dbt: 0.0346s; 1; m:domysql w:travelblog (10.17.0.13); sld: 1;
; mem: 1.1mb