Dag 12 & 13 – Amsterdam


Advertisement
Netherlands' flag
Europe » Netherlands » North Holland » Amsterdam
June 17th 2012
Published: June 18th 2012
Edit Blog Post

Dag 12 & 13 – Amsterdam is op ‘n ander manier mooi – baie meer statig en heelwat minder toeriste en meer inwoners. Tog het Nicol reeds amper soveel fotos soos in Venesie geneem van die interessante geboue en waterlewe. Hy se as hy ‘n vinnige slide show bymekaar sit sal ons binne 6 uur na als kan kyk (tot dusver) – en dit is die goeie fotos wat hy hou.

Na Venesie waar mens eenvoudig gestap het sonder enige gevaar van motors (selfs Rome waar die motorryers eenvoudig gestop of stadiger gery het vir voetgangers, selfs jaywalkers) is dit nogal ‘n aanpassing om voortdurend vir al die fietsryers pad te gee.

Die fietse is ‘n boek op hul eie werd: met blomme versier, met groot bakke vir kinders en kruideniersware, met kissies, mandjies, in allerlei kleure geverf en meestal oud. Sommige is so verroes asof hulle in jare nie gery is nie – Nicol se hulle is vergete, ek reken hulle is elders gesteel en gedump. Selfs een wat aan ‘n ketting bokant ‘n grag hang en ‘n ander wat in die modder in ‘n grag staan. Glo algemeen vir fietse om in die gragte te eindig – asook twaalf motors per jaar, aldus ‘n gids (as jy die dertiende is, laat hulle jou seker tot volgende jaar oorstaan). Die Hollandse honde is ook al goed getrain om saam met hul base aan ‘n leiband langs die fietse te draf.

Dankie Francisca en Truida vir die inligting oor die blyplek in Prinsesgracht – wat ‘n wonderlike hawe so reg in die middel van als. So lekker om so gasvry (in Afrikaans) ontvang te word met brood, kaas, koffie en vrugte as jy laataand sopnat van die lughawe hier aanland.

Ook nog ‘n aanpassing: mens kan nie meer so vrylik skinder nie. Op die lughawe sien ons reeds twee reisgidse oor Suid-Afrika en ‘n Afrikaanse taalgids. Ons koop kos en kaartjies lekker in Afrikaans – hoewel die man om die draai by die haringstalletjie gereken het ons is dalk Skandinawiers. Hy verkoop die heerlikste salmsop, paling en kippers.

Het nou al die twee “grotes” agter die blad: die Rijksmuseum en Van Gogh … ons bene het geveto dat ons hulle saam doen, want na ons aankoms het ons oral heen gestap. Hulle is besig om te werk aan die Rijksmuseum en groot dele is dus toe, wat aan die een kant ‘n jammerte is, maar aan die ander kant ook ‘n genade op ‘n ou se voete is. Ek reken ook dit is die rede waarom daar maar min mense by die museum was – Annemarie Balkema het aangebied dat haar man Guus vir ons kaartjies oor die internet help koop (hy was effe verbaas toe ons die aanbod aanvaar) maar daar was geen tou en geen samedromming binne nie.

Wat ‘n verligting om ‘n slag gewone mense instede van saints te sien, hoewel Frans Hals se mede-kunstenaars seker lekker vies was vir hom toe hy die tradisie van aparte skilderye van mans en vroue verbreek het deur die vrolike bruilofspaar saam te skilder. Weet ook nie gewoon hoe die talle “militiamanne” was wat destyds so geskilder is nie – elke ou in die nag- en ander wagte moes betaal as hul gesig in die skildery pryk. Die verskillende stadswagte was klaarblyklik ‘n goeie bron van inkomste naas die kerk.

By die Van Gogh-museum het ons vandag dankie gese vir die vooraf-kaartjies en daar was derhalwe ook heelwat meer samedromming voor belangrike skilderye. Ongelooflik wat hy in slegs 10 jaar vermag het: so iets soos 800 skilderye en 1 200 sketse plus al sy briewe … en dis sonder die skilderye wat hy toegeskilder het toe sy geld vir doeke opraak. Ook aangrypend dat Vincent slegs 37 jaar oud was toe hy dood is, sy broer Theo 34, Toulouse-Lautrec 38 – Gaugain het darem 50 gehaal. In ‘n brief het Gaugain geskyf oor hul kortstondige en rampspoedige plan om ‘n kunstenaarskolonie in die “geel huis” te begin: “one is a volcano and the other constantly boiling” – nie ‘n goeie resep vir ‘n vennootskap nie. Interessant ook hoe donker Van Gogh se eerste kunswerke was (a la die styl van die tyd) en hoe depressiewer hy raak, hoe helderder die kleure en hoe meer variasies van geel het hy gebruik.

Ons het nou al heelwat van Amsterdam te voet gesien – die rede is dat Nicol my so nou en dan my kop laat volg en ‘n rigting laat inslaan. Sodoende word ‘n 2km beplande roete ‘n 5km kronkelende wandeling. Maar ons het darem nog elke slag by die huis aangekom.

Gisteraand ook Rembrandtplein “beleef” – die feit dat Holland in die Euro Cup gespeel het het sekerlik tot die jovialiteit bygedra, maar ek reken na sononder (hier eers 10 uur in die aand) moet hulle ‘n ouderdomsperk van slegs 18-25 hef. Vandag pannekoek geeet by die ‘Carousel” – restaurant gebou rondom ‘n regte carousel waarop kinders kan bly. Dink ons s’n is lekkerder: hierdie het dik deeg en die kaas en spek vulsel is maar dunnerig daarop gesprinkel, dis nie die lekker dun opgerolde pannekoeke wat ons ken nie.

Advertisement



18th June 2012

Amsterdam
Sjoe, jul blog lees lekker! Ek voel of ek saamtoer!! Ek hoop regtig julle sal ook tyd he om Keukenhof te ervaar...xx (Ek is vandag terug op kantoor en jul Amsterdam inskrywing is die eerste ene wat ek lees - gaan nou bietjie opvang en kyk hoe julle Venesie en Rome geniet het.)

Tot: 0.084s; Tpl: 0.022s; cc: 6; qc: 45; dbt: 0.0422s; 1; m:domysql w:travelblog (10.17.0.13); sld: 1; ; mem: 1.1mb