Annami vertel nog


Advertisement
South Africa's flag
Africa » South Africa » Gauteng » Pretoria
March 5th 2009
Published: March 5th 2009
Edit Blog Post

Vroegoggend DuiwelsdraaiVroegoggend DuiwelsdraaiVroegoggend Duiwelsdraai

Net voor jou inentings is dit aan te beveel om die horison stip te beloer as jy dit ooit so waag om hierdie toertjie vooraf te doen...

Duiwelsdraai



Gister was eintlik maar ’n snaakse dag. Ek het Dinsdagaand tot laat gesit en werk aan so vreemde vak wat ek moet vat vir my honneurs. En om een of ander rede doen ons heelwat meer werk in daardie vak as die ander.

As iemand my ken, sal hulle weet dat versteurde slaappatrone iets is waarmee ek maar grootgeword het. Soos wat die aktiwiteite opduik shuffle-shuffle jy maar so deur die standaard-roetines. Maar die vet weet. Die wete dat die een of ander karikatuur van ’n dokter wat jou met VIER net sulke (arms beduie terselfdertyd verwoed dat ‘net sulke’ nou eintlik ‘elle lange’ beteken) naalde in jou drome rondjaag, het die rustigheid van die vier beskikbare slaapuurtjies effens ontneem.

My een vriend, De Wet, swot grafiese ontwerp by Open Window. Hulle het af en toe (en meer toe as af) allerhande snaaksighede wat hulle vir hulle klasse moet voorberei. En vir gister se klas moes hulle ’n paar foto’s neem. Nou nie die standaard foto’tjie wat ek op my sussie se mik-en-druk sou prakseer nie. O nee. Foto’s wat vereis dat ek vyfuur in die oggend moet opstaan. Daarna ewe gemoedelik moet spoornsy agter ’n rondomtalie aan en dan nog meer gemoedelik moet poseer op die duiwelsdraaier.

Ag en eintlik was dit nou lekker. Die vroegoggenddou tussen my tone is net wat ek nodig gehad het om my uit die steeds heersende sluimer te ruk. Self die wind deur my boskaas was ’n vrolike ervaring. Solank ek op die horison kon fokus, was dit lekker.

Die hele eskapade het net so vinning soos die rondomtalie verbygegaan en daar was ’n tydjie om my kamer in ’n studio te omskep. (En ’n kunsmatige ligstraal en duisternis te konstrueer). Kreatiwiteit ken gelukkig geen perke nie.

Al hierdie dinge het gebeur voordat Inge my kwart voor agt vir ons agtuur inentingsafspraak by die Intercare Travel Clinic oorkant my huis in Lynnwood Glen moes kom oplaai het. Ewe skielik het die foon begin lui.

En ek het geweet. Dit is nou tyd.

Naalde is en sal seker nooit vir my ’n baie gerusstellende apparaat wees nie. Gister was dit in my gedagtes baie erger. Dit laat my eintlik dink aan ’n gans. Dit lyk so petite en oulik (veral op ’n tekenprent), maar laat daai ding net agter jou aangestorm kom en hap, dan huil jy. (Ek praat uit ondervinding uit. My eerste troeteldier was so einste oulike gansie.)

Terug by die foon. Sy het gebel om te sê ek moet solank alleen gaan, sy gaan so bietjie laat wees. Toe gaan staan my hart. Inspuitings. Alleen?

Die hele toetie het ’n vinnige opweeg van voordele en nadele geloods en binne sekondes was Afrika belangriker as Bang. Vyftien minute later het ek by die gaafste dokter, ene Seef Pretorius, ingewals. Hier en daar ’n grappie gemaak, vlugtig gesels oor die mediese realiteite van Kenia en Ethiopië en ek het maar gaan sit vir die doodskoot. Wat moes ek maak?

Ek is trots om te sê al vier inspuitings was op my regterarm. Ek het nie bloeddorstig aan’t gil gegaan nie. En ek het staande en met ’n glimlag Inge in die wagkamer begroet.



Advertisement



Tot: 0.063s; Tpl: 0.009s; cc: 8; qc: 47; dbt: 0.031s; 1; m:domysql w:travelblog (10.17.0.13); sld: 1; ; mem: 1.1mb