Dag 7 Rome


Advertisement
Italy's flag
Europe » Italy » Veneto
June 13th 2012
Published: June 13th 2012
Edit Blog Post

Dag 7 Rome. Op ons laaste dag in Rome die oorkant van die stad verken: piazza del Popolo met sy obelisk (g’n wonder daar’s so min van die goed oor in Egipte nie, kan net dink hoe swaar die arme osse en slawe moes getrek het om dit in Rome te kry) en die grillerige Santa Maria del Popolo met sy kopbene en grafte in die vloer waaroor jy loop tussen die Carraveggio en ander kuns deur. Lyk my jy’s veilig om “Santa Maria” te raai as jy ‘n kerk se naam vergeet.



Op pad verby die Pax patria skarkofaag /altaar en Godot met die kop in sy hand. Dan op teen die heuwel na die Borghese-tuine, damme met bootjies, standbeelde en die dubbeld-trapkarretjies – kon nie agterkom of man en vrou veronderstel is om saam te trap en of sommige vrouens net sommer lui was nie (of mans al die werk wou doen?). Pushkin se standbeeld behang met blomme – meer en varser as Julius Caesar?! Dalk ‘n verjaardag?

Die uitsig oor die stad weer ‘n belewenis, die slag van die anderkant sodat jy ‘n beter indruk kan kry van hoeveel koepels van katedrale daar is.

Die aand ‘n slag ‘n ander restaurant probeer en gewis een om te onthou: I’l Guardino Romano in Via Portico d’Ottavia (ook in ons omgewing). Ons kon nie mooi die verwantskappe uitwerk nie, maar ‘n omie het buite gesit en artisjokke bewerk vir die heerlike gebraaide artisjokke. Ons kon mooi aflyk (Nicol het sommer video ook geneem) hoe hy hulle sny en het daarna die resep by die eienaar gekry wat seker gemaak het dat ons hom saam afneem. Gebraaide artisjokke, zucchiniblomme met mozzarella en ansjovis, saltimbocca en sweetbreads met artisjokke en wyn … een van Nero se orgies kon nie lekkerder nie. Met wyn en water boonop minder as 50 euro vir die twee van ons.

Uiteindelik die “portico” van die huis gesien wat Augustus vir sy suster laat bou het om sy gewete te salf … en vandaar ‘n perfekte uitsig en audio van nog ‘n kavierkonsert in die uitgrawings van die Marcellus teater.

Vanaf die Campidoglio ‘n eerie uitsig oor die verligte dele van die forum en pilare van Saturnus se tempel . Die wolf (a la Romulus, wat sy boetie Remus op die Palatine-heuwel doodgemaak het in ‘n ekstreme vorm van sibling-rivalry) is ‘n gewilde simbool in die geweste: hulle het selfs ‘n bos gesnoei om soos die wolf met tweeling-babetjies te lyk. Die babetjies is terloops eers later aangebring op die bronsstandeeld wat die simbool van Rome geword het.


Additional photos below
Photos: 4, Displayed: 4


Advertisement



Tot: 0.13s; Tpl: 0.01s; cc: 10; qc: 49; dbt: 0.0446s; 1; m:domysql w:travelblog (10.17.0.13); sld: 1; ; mem: 1.2mb